“Ek is Yahuah, Ek verander nie.” – Maleagi 3: 6

Dit is goed vir ons dat daar te midde van alle veranderlikhede in die lewe Iemand is wat nie deur verandering beïnvloed word nie, maar aan die stuur van alle verandering staan; Een wie se hart nooit kan verander nie en op wie se voorkop geen plooie van bekommernis wys nie. Alles anders het verander en verander deurentyd…

Die opvou van die verslete kleed het begin; die hemel en die aarde moet gou verbygaan – dit sal vergaan – dit sal oud word soos ‘n kleed; maar daar is Iemand wat onsterflik is, aan wie se jare daar geen einde is nie, en in Wie se Persoon daar geen verandering is nie.

Soos die vreugde wat die seevaarder ervaar wanneer hy – nadat hy al ‘n dag lank in die storm rondgegooi is –  weer op die vaste strand stap, so is die bevrediging van ‘n Christen wanneer hy te midde van al die veranderinge en uitdagings in hierdie moeilike lewe die voet van sy geloof in hierdie ewige waarheid en belofte van Yahuah vind  – “Ek is die Here, ek verander nie.”

Die stabiliteit wat die anker aan die skip gee as dit uiteindelik ‘n houvas op ‘n rots vind, is soos die hoop van ‘n Christen wanneer hy sy geloof op hierdie glorieryke waarheid vestig. By God is geen veranderlikheid en geen sprake van omkeer nie. Dit wat God se eienskappe van ouds was – is presies dit nou; Sy krag, Sy wysheid, Sy regverdigheid, Sy waarheid, is onveranderlikheid.

El Elyon die Allerhoogste God was nog altyd die toevlug van sy volk – hul vesting op die dag van benoudheid – en Hy is nog steeds hul vaste Helper. Hy is onveranderd in sy liefde. Hy het sy volk liefgehad met ‘n ewige liefde’; Hy het ons nou net so lief soos ooit tevore, en wanneer alle aardse dinge in die laaste vuur verbrand het, sal sy liefde steeds die dou van sy jeug dra. Kosbaar is die versekering dat die Here nie verander nie!

Die wiel van die voorsienigheid draai, maar die as daarvan is ons Ewige Vader se ewige liefde vir ons.

Gebed:

Avinu shabashamayim – Onse Vader wat in die hemel is,

Abba Vader, dankie vir die ewige en blye belofte dat U nie verander nie. Dankie Yahuah dat ons op U onveranderlikheid – op U konstante liefde en voorsiening kan peil trek en in U ewige heerskappy berusting vind. Dankie Vader dat U ons lief gehad het toe ons nog verlore sondaars was. Dankie dat U aan ons genade betoon het deur ons te roep en ook uit te verkis as U besondere besitting – Yeshurun – konings en priesters – ‘n heilige nasie. Ons bid dit in die Naam van U Seun en ons Koning en Hoëpriester Yahusua haMashiach.

Baruch haba b’shem Yahuah – Geseënd is Hy wat kom in die Naam van Yahuah!

AMEN

Lewer kommentaar