Verkondig die Evangelie – Wet, Woord en Werke

Gaan die hele wêreld in en verkondig die Evangelie

Mat 28:18-20  En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde. Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen.

Mar 16:15-20 En Hy het vir hulle gesê: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom. Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word; maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word. En vir die wat geglo het, sal hierdie tekens volg: in my Naam sal hulle duiwels uitdryf, met nuwe tale sal hulle spreek, slange sal hulle opneem; en as hulle iets dodeliks drink, sal dit hulle geen kwaad doen nie; op siekes sal hulle die hande lê, en hulle sal gesond word. Nadat die Here dan met hulle gespreek het, is Hy opgeneem in die hemel en het gaan sit aan die regterhand van God. Maar hulle het uitgegaan en oral gepreek, en die Here het saamgewerk en die woord bevestig deur die tekens wat daarop gevolg het. Amen.

Jesus se opdrag is om die Evangelie te verkondig – om die Goeie Nuus te preek aan alle nasies, maar selfs meer as dit; in die King James vertaling staan daar dat ons die Evangelie aan alle ‘kreature of skepsels’ moet verkondig. Ek glo dis baie nader aan die oorspronklike, want die verlossingsplan van God is daar omdat Hy in die proses is om alles nuut te maak – die hele skepping is in afwagting daarop!

Die eerste punt wat van die uiterste belang is, is dat ons die ware doktrine van Jesus Christus sal leer, nastreef en verkondig, want dit alleen is die ware Evangelie. In Jesus se eie woorde; ‘leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het’.

Johannes verduidelik dit soos volg:

1 Joh 2:1  My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het, ons het ‘n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige. 
2  En Hy is ‘n versoening vir ons sondes, en nie alleen vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld. 
En hieraan weet ons dat ons Hom ken: as ons sy gebooie bewaar
4  Hy wat sê: Ek ken Hom, en sy gebooie nie bewaar nie, is ‘n leuenaar en in hom is die waarheid nie. 
Maar elkeen wat sy woord bewaar, in hom het die liefde van God waarlik volmaak geword. Hieraan weet ons dat ons in Hom is. 
Hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het

Ons moet dus by die begin, begin en dit is met die wet van God – as ons nie die wet van God ken nie, hoe kan ons die leer van Jesus in konteks verstaan sodat ons dit self kan nastreef en ook aan ander leer. Johannes se eerste vermaning is om nie te sondig nie. Ons kan weet dat ons Jesus ken wanneer ons sy gebooie bewaar.

Wet, Woord en Werke

Ons verkondig die Evangelie deur self ons bekering en wedergeboorte te demonstreer deur in die gebooie en opdragte van Jesus te wandel. In vers 5 is die opdrag om Jesus se woord te bewaar – Jesus se woord en Jesus se gebooie is dus die twee steunpilare van die Evangelie. Dit is die twee aspekte wat ons moet bewaar en verkondig – dit is die leer van Jesus – sy doktrine – Woord en Wet in Aksie.

Sonder die Woord is die Wet sinneloos om na te streef – dit is wat die Jode doen – Hulle verwerp die Woord van God – Jesus – en glo dat die Wet hulle gaan red, maar sonder die Seun het hulle ook nie die Vader nie. Sonder die Wet is die Woord ook sinneloos, omdat die Woord mens geword het om die Wet te vervul en daardeur het ons waarlik die Vader gesien!

Kyk hoe som Paulus dit op en let op die oorgawe waarmee hy homself as lewende offergawe gegee het om die Evangelie te verkondig – dit tref diep as ‘n mens dan in ag neem dat soveel vals leeraars vandag die woorde van Paulus verdraai om te sê dat hy die Wet verwerp het!

1 Kor 9:18  Watter loon het ek dan? Dat as ek die evangelie verkondig, ek die evangelie van Christus kosteloos bring, om nie van my reg in die evangelie ten volle gebruik te maak nie. 
19  Want alhoewel ek van almal vry was, het ek my aan almal diensbaar gemaak om soveel van hulle as moontlik te win. 
20  Vir die Jode (Wet sonder Woord) het ek soos ‘n Jood geword om die Jode te win; vir die wat onder die wet is, soos een wat onder die wet is, om die wat onder die wet is, te win. 
21  Vir die wat sonder die wet is (Woord sonder Wet), soos een sonder wet—al is ek nie sonder die wet van God nie, maar onder die wet van Christus (Wet en Woord)om die wat sonder die wet is, te win; 
22  vir die swakkes het ek soos ‘n swakke geword om die swakke te win; vir almal het ek alles geword om in alle geval sommige te red. 
23  En ek doen dit ter wille van die evangelie, dat ek ‘n deelgenoot daarvan kan word
24  Weet julle nie dat die wat op die baan hardloop, wel almal hardloop, maar dat een die prys ontvang nie? Hardloop só dat julle dit sekerlik kan behaal. 
25  En elkeen wat aan ‘n wedstryd deelneem, onthou hom in alles—húlle nogal om ‘n verwelklike krans te ontvang, maar ons ‘n onverwelklike. 
26  Ek hardloop dan soos een wat nie onseker is nie; ek slaan met die vuis soos een wat nie in die lug slaan nie. 
27  Maar ek kasty my liggaam en maak dit diensbaar, dat ek nie miskien, terwyl ek vir ander gepreek het, self verwerplik sou wees nie

  • Die eerste aspek van die Evangelie is die Wet – die mens moet eers bewus gemaak word van sy sonde en alleenlik die Wet van God is die maatstaf daarvoor. Almal wat God verwerp staan skuldig voor die Wet en verdien die dood, want die sonde lei na die dood.

Rom 6:23  Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here. 

  • Die tweede aspek van die Evangelie is die Woord – maar die genadegawe van God aan alle sondaars is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here!

Wet en Woord in aksie is die Evangelie van Jesus Christus. Die Evangelie is die Wet van God en die Woord van God wat uitgebeeld is in die aksies of werke van Jesus. Hy is die voorbeeld waarna ons strewe. Jesus verwag dat ons die werke sal doen wat Hy gesê het, want in sy wandel en weë – in sy werke – is die volmaakte vervulling van Wet en Woord wat lei na die ewige lewe!

In Jesus se eie woorde;

Luk 6:46  En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie? 
47  Elkeen wat na My toe kom en na my woorde luister en dit doen Ek sal julle wys soos wie hy is. 
48  Hy is soos ‘n man wat ‘n huis bou, wat gegrawe en diep ingegaan en die fondament op die rots gelê het; en toe die vloedwater kom en die stroom teen daardie huis losbreek, kon hy dit nie beweeg nie, omdat sy fondament op die rots was. 
49  Maar wie dit hoor en dit nie doen nie, is soos ‘n man wat ‘n huis sonder fondament op die grond bou, en die stroom het daarteen losgebreek en dit het dadelik geval, en die instorting van daardie huis was groot. 

Die derde aspek van die Evangelie is Werke – “En wat noem julle my Here, Here en doen nie wat ek sê nie?”

Joh 14:12  Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo—die werke wat Ek doen, sal hy ook doen; en hy sal groter werke doen as dit, omdat Ek na my Vader gaan. 
13  En wat julle ook al in my Naam mag vra, dit sal Ek doen, sodat die Vader in die Seun verheerlik kan word. 
14  As julle iets in my Naam vra, sal Ek dit doen. 

Jesus doen nog steeds die werke – Hy doen dit deur ons wanneer ons gehoorsaam is en doen wat hy sê! Geloof is gehoorsaamheid – ongehoorsaamheid is ongeloof!

Jakobus maak hierdie waarheid baie duidelik met die volgende woorde;

Jak 2:14  Wat baat dit, my broeders, as iemand sê dat hy die geloof het, maar hy het nie die werke nie? Dié geloof kan hom tog nie red nie?
15  As daar nou ‘n broeder of suster naak is en aan die daaglikse voedsel gebrek het,
16  en een uit julle sou vir hulle sê: Gaan heen in vrede, word warm, word versadig, maar julle gee hulle nie wat vir die liggaam nodig is nie—wat baat dit?
17  Net so is ook die geloof, as dit geen werke het nie, in sigself dood.
18  Maar iemand sal sê: Jy het die geloof en ek die werke. Toon my jou geloof uit jou werke, en ek sal jou uit my werke my geloof toon.
19  Jy glo dat God één is. Jy doen goed; die duiwels glo dit ook, en hulle sidder.
20  Maar wil jy weet, o nietige mens, dat die geloof sonder die werke dood is?
21  Is Abraham, ons vader, nie uit die werke geregverdig toe hy Isak, sy seun, op die altaar geoffer het nie?
22  Sien jy dat die geloof saamgewerk het met sy werke en dat die geloof volkome geword het uit die werke?
23  En die Skrif is vervul wat sê: En Abraham het God geglo, en dit is hom tot geregtigheid gereken, en hy is ‘n vriend van God genoem.
24  Sien julle dan nou dat die mens geregverdig word uit die werke en nie alleen uit die geloof nie?
25  En is Ragab, die hoer, nie ook net so geregverdig uit die werke toe sy die boodskappers ontvang en met ‘n ander pad weggestuur het nie?
26  Want soos die liggaam sonder gees dood is, so is ook die geloof sonder die werke dood.

Bekering en die Wedergeboorte

Vervolgens is dit dan duidelik dat die waarheid van die Evangelie – dat Jesus vir ons sonde gesterf het – omdat ons self nooit die volmaakte Wet van God volmaak kon nakom nie. Deur sy sterwe en opstanding het Jesus die mag van die sonde oorwin – dit is genade (grace). Wanneer ons bekeer tot Jesus – die Woord van God – en ons dan vergifnis vir ons sondes ontvang en gedoop word, ontvang ons Jesus se eie Heilige Gees wat sondeloos is soos Hy. Nou lewe ons die nuwe wedergebore lewe wat sondeloos is en wat immer meer perfek raak soos Hy is deur die werking van God die Heilige Gees in ons.  Ons doen dus nou die Werke van die Heilige Gees. Die mag wat ons deur sy Gees verkry om oor die sonde te heers en om sondeloos te lewe is genade (grace). So verkry ons die ewige lewe! Dit is Wet, Woord en Werke in aksie.

Daarom moet die slagspreuk van die Evangelie, ‘BEKERING’ wees, want die verkondiging van die Evangelie moet altyd tot bekering en vergifnis van sondes lei!

Luk 24:45  Toe open Hy hulle verstand om die Skrifte te verstaan. 
46  En Hy sê vir hulle: So is dit geskrywe, en so moes die Christus ly en op die derde dag uit die dode opstaan, 
47  en bekering en vergewing van sondes in sy Naam verkondig word aan al die nasies, van Jerusalem af en verder. 
48  En julle is getuies van hierdie dinge.

Sonder die werke van bekering wat spruit uit die kennis van die wet en die woord, kan daar nie vergifnis van sonde wees nie – geen bekering – geen vergifnis…

Om bloot in Jesus te glo is beslis nie genoeg nie; selfs die duiwels glo in Jesus en bely dat Hy die Seun van God is! Geloof sonder die werke van bekering en die wedergebore lewe is dood! daardie soort geloof kan jou nie red nie!

Daar is vandag baie, baie gelowiges wat die vals  genadeleer (doctrine of grace) – wat die doktrines van duiwels is – aanhang dat geloof alleen genoeg is om jou te red. Ja, ons word deur geloof gered, maar geloof staan nie op sy eie nie, want geloof sonder werke is dood en lei tot die ewige dood.

Paulus se vermaning aan ons almal is hier van pas – dit is ‘n oproep aan ons dat ons, ons bekering en wedergebore lewe deur werke sal uitleef. As jy nie die wedergebore lewe uitleef nie getuig dit daarvan dat jy nie honger na God nie!

Rom 12:1  Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens. 
2  En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is. 

In Jesus se eie woorde;

Luk 13:1  En in dieselfde tyd was daar mense teenwoordig wat Hom berig gebring het van die Galiléërs wie se bloed Pilatus met hulle offers gemeng het. 
:2  En Jesus antwoord en sê vir hulle: Dink julle dat hierdie Galiléërs groter sondaars was as al die Galiléërs, omdat hulle sulke dinge gely het? 
Nee, sê Ek vir julle; maar as julle jul nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom. 
4  Of daardie agttien op wie die toring van Silóam geval en hulle gedood het—dink julle dat hulle meer skuldig was as al die mense wat in Jerusalem woon? 
Nee, sê Ek vir julle; maar as julle jul nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom. 

In volle Geloofsvertroue en Gehoorsaamheid verkondig ons die Evangelie van die Koninkryk van God deur die Wet, Woord en Werke van Jesus ons Messias ons eie te maak en dit voor die mense uit te leef en uit te dra en uit te voer – dit is wat dit beteken om die Bekeerde lewe te lei en dit is hoe ander mense deur ons na Bekering en Dissipelskap gelei moet word. daar is GEEN ander weg nie.

Amen.