“…want kyk, hy bid.” – Handelinge 9:11

Opregte gebede word onmiddellik in die hemel gehoor. Die oomblik toe Saul begin bid, het die Here hom gehoor. Hier is vertroosting vir die siel in nood – die biddende siel. Dikwels buig ‘n gebrokene van hart sy knie, maar kan sy gebrokenheid net in die taal van versugting en trane uitspreek; tog laat daardie kreun al die harpe van die hemel opgewonde musiek maak; daardie traan is deur God gevang en in die annale van die hemel bewaar.

Die smekende siel, wie se woorde deur versugtinge verhinder word, het ‘n plek voor die Allerhoogste.  Trane is die diamante van die hemel; versugtinge maak deel uit van die musiek van Yahuah se voorhowe, en word gereken saam met al die ander sublieme stemme wat Sy Majesteit in die hoogste bereik.

Moenie dink dat jou gebed, hoe swak of bewend ook al, ongemerk sal vebygaan nie. Jakob se leer is verhewe, maar ons gebede word deur die engele na die troon van die Vader gedra. Ons God hoor nie net ons gebed nie, maar hoor dit ook graag. “Hy vergeet die geroep van die nederiges nie.” Waarlik, Hy draai nie sy oë en sy oor na die van hoë aansien en verhewe woorde nie; Hy wend Hom nie na die prag en praal van konings nie; Hy luister nie na die deining van oorlogsmusiek nie; Hy beskou die triomf en die trots van die mens as rook in die wind.

Maar oral waar ‘n hart oorstelp is met droefheid, of waar ‘n lip sidder van pyn, of ‘n diepe kreun, of ‘n berouvolle versugting in opregtheid geuiter word, daarvoor is die hart van die Here oop. Hy laat dit aanteken in die register van Sy geheue. Hy plaas ons gebede, soos roosblare, tussen die bladsye van sy gedenkboek, en wanneer die bundel uiteindelik oopgemaak word, sal daar ‘n kosbare geur daaruit opgaan.

Gebed:

Avinu shabashamayim – Onse Vader wat in die Hemel is,

Dankie Vader vir die blye versekering dat U die gebede van U regverdiges hoor en ook verhoor.

Dankie El Shadai, Almagtige God, dat U Heilige Gees ons deurentyd vul met geloofsoortuiging – ‘n vatse wete dat U in elke opsig en in elke gebeurtenis in ons lewe regeer.

Dankie El Elyon, Allerhoogste God dat U ‘n plan het met ons, U oorblysel hier in die laaste dae in die voleinding van die wêreldgeskiedenis.

Dankie Yahuah Elohim Tse’va’ot, God van die leërskare dat ons kan berus in die wete dat U die oorwinning reeds behaal het.

Ons wag nie vir ‘n politieke leier of ‘n verkiesingsuitslag nie – die geruis van die nasies en hierdie wêreld se heerser is oëverblindery, O God. U is die oorwinnaar, U Koninkryk is die enigste realiteit, Yahushua haMoshiach , Jesus Christus is die enigste Koning en Hy is alreeds oppad.

Vader laat ons nie na die onstuimighede van die nasies kyk nie, maar laat ons, ons identiteit as Yeshurun U geliefde en gesalfde volk aangryp en ons oog gerig hou op die Hemele want Yashar’el – die opregtes van God – se Koning is oppad!

Ons bid dit in die Naam van Jesus alleen.

Amen.

“Ek is Yahuah, Ek verander nie.” – Maleagi 3: 6

Dit is goed vir ons dat daar te midde van alle veranderlikhede in die lewe Iemand is wat nie deur verandering beïnvloed word nie, maar aan die stuur van alle verandering staan; Een wie se hart nooit kan verander nie en op wie se voorkop geen plooie van bekommernis wys nie. Alles anders het verander en verander deurentyd…

Die opvou van die verslete kleed het begin; die hemel en die aarde moet gou verbygaan – dit sal vergaan – dit sal oud word soos ‘n kleed; maar daar is Iemand wat onsterflik is, aan wie se jare daar geen einde is nie, en in Wie se Persoon daar geen verandering is nie.

Soos die vreugde wat die seevaarder ervaar wanneer hy – nadat hy al ‘n dag lank in die storm rondgegooi is –  weer op die vaste strand stap, so is die bevrediging van ‘n Christen wanneer hy te midde van al die veranderinge en uitdagings in hierdie moeilike lewe die voet van sy geloof in hierdie ewige waarheid en belofte van Yahuah vind  – “Ek is die Here, ek verander nie.”

Die stabiliteit wat die anker aan die skip gee as dit uiteindelik ‘n houvas op ‘n rots vind, is soos die hoop van ‘n Christen wanneer hy sy geloof op hierdie glorieryke waarheid vestig. By God is geen veranderlikheid en geen sprake van omkeer nie. Dit wat God se eienskappe van ouds was – is presies dit nou; Sy krag, Sy wysheid, Sy regverdigheid, Sy waarheid, is onveranderlikheid.

El Elyon die Allerhoogste God was nog altyd die toevlug van sy volk – hul vesting op die dag van benoudheid – en Hy is nog steeds hul vaste Helper. Hy is onveranderd in sy liefde. Hy het sy volk liefgehad met ‘n ewige liefde’; Hy het ons nou net so lief soos ooit tevore, en wanneer alle aardse dinge in die laaste vuur verbrand het, sal sy liefde steeds die dou van sy jeug dra. Kosbaar is die versekering dat die Here nie verander nie!

Die wiel van die voorsienigheid draai, maar die as daarvan is ons Ewige Vader se ewige liefde vir ons.

Gebed:

Avinu shabashamayim – Onse Vader wat in die hemel is,

Abba Vader, dankie vir die ewige en blye belofte dat U nie verander nie. Dankie Yahuah dat ons op U onveranderlikheid – op U konstante liefde en voorsiening kan peil trek en in U ewige heerskappy berusting vind. Dankie Vader dat U ons lief gehad het toe ons nog verlore sondaars was. Dankie dat U aan ons genade betoon het deur ons te roep en ook uit te verkis as U besondere besitting – Yeshurun – konings en priesters – ‘n heilige nasie. Ons bid dit in die Naam van U Seun en ons Koning en Hoëpriester Yahusua haMashiach.

Baruch haba b’shem Yahuah – Geseënd is Hy wat kom in die Naam van Yahuah!

AMEN