Die Priesterlike Wet

Deu 6:1-22

Dit is dan die gebod, die insettinge en die verordeninge wat die HERE julle God beveel het om julle te leer, sodat julle dit kan doen in die land waarheen julle oortrek om dit in besit te neem; dat jy die HERE jou God kan vrees om al sy insettinge en sy gebooie wat ek jou beveel, te hou—jy en jou kind en jou kindskind al die dae van jou lewe; en dat jou dae verleng kan word.

Hoor dan, Israel, en onderhou dit sorgvuldig, dat dit met jou goed kan gaan en dat julle baie kan vermenigvuldig soos die HERE die God van jou vaders jou beloof het, ‘n land wat oorloop van melk en heuning.

Hoor, Israel, die HERE onse God is ‘n enige HERE.

Daarom moet jy die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag.

En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan. Ook moet jy dit as ‘n teken bind op jou hand, en dit moet as ‘n voorhoofsband tussen jou oë wees. En jy moet dit op die deurposte van jou huis en op jou poorte skrywe.

En as die HERE jou God jou inbring in die land wat Hy aan jou vaders, Abraham, Isak en Jakob, met ‘n eed beloof het om jou te gee – groot en mooi stede wat jy nie gebou het nie, en huise vol van allerhande goed wat jy nie gevul het nie, en uitgekapte reënbakke wat jy nie uitgekap, wingerde en olyfbome wat jy nie geplant het nie—en jy eet en versadig word, neem jou dan in ag dat jy die HERE nie vergeet wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het nie.

Jy moet die HERE jou God vrees en Hom dien; en by sy Naam moet jy sweer.

Julle mag nie agter ander gode aan loop uit die gode van die volke wat rondom julle is nie— want die HERE jou God is ‘n jaloerse God by jou – sodat die toorn van die HERE jou God nie teen jou ontvlam en Hy jou van die aarde verdelg nie.

Julle mag die HERE julle God nie versoek soos julle Hom by Massa versoek het nie.

Julle moet die gebooie van die HERE julle God en sy getuienisse en sy insettinge wat Hy jou beveel het, ywerig onderhou.

En jy moet doen wat reg en goed is in die oë van die HERE, dat dit met jou goed kan gaan en jy kan inkom en in besit neem die goeie land wat die HERE aan jou vaders met ‘n eed beloof het, terwyl Hy al jou vyande voor jou uit verjaag soos die HERE gespreek het.

As jou seun jou later vra en sê: Wat beteken die getuienisse en die insettinge en die verordeninge wat die HERE onse God julle beveel het – dan moet jy aan jou seun sê: Ons was slawe van Farao in Egipte; maar die HERE het ons deur ‘n sterke hand uit Egipte uitgelei. En die HERE het groot en onheilbrengende tekens en wonders voor ons oë in Egipte aan Farao en sy hele huis gedoen.

Exo 20:1-17

Toe het God al hierdie woorde gespreek en gesê:

Ek is die HERE jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het.

Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie.

 Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is, of van wat in die waters onder die aarde is nie.

Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die HERE jou God, is ‘n jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat;  en Ek bewys barmhartigheid aan duisende van die wat My liefhet en my gebooie onderhou.

Jy mag die Naam van die HERE jou God nie ydellik gebruik nie, want die HERE sal die een wat sy Naam ydellik gebruik, nie ongestraf laat bly nie.

Gedenk die sabbatdag, dat jy dit heilig. Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen; maar die sewende dag is die sabbat van die HERE jou God; dan mag jy géén werk doen nie—jy of jou seun of jou dogter, of jou dienskneg of jou diensmaagd, of jou vee of jou vreemdeling wat in jou poorte is nie.

Want in ses dae het die HERE die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, en op die sewende dag het Hy gerus. Daarom het die HERE die sabbatdag geseën en dit geheilig.

Eer jou vader en jou moeder, dat jou dae verleng mag word in die land wat die HERE jou God aan jou gee.

Jy mag nie doodslaan nie.

Jy mag nie egbreek nie.

Jy mag nie steel nie.

Jy mag geen valse getuienis teen jou naaste spreek nie.

Jy mag nie jou naaste se huis begeer nie; jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie, of sy dienskneg of sy diensmaagd, of sy os of sy esel of iets wat van jou naaste is nie.

Mat 22:35-40

En een van hulle, ‘n wetgeleerde, het ‘n vraag gestel om Hom te versoek en gesê: Meester, wat is die groot gebod in die wet?

En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.